Google Drive se bykomende diensbepalings

Intreedatum: 31 Maart 2020 (sien vorige weergawe)

Om Google Drive te gebruik moet jy (1) Google se diensbepalings en (2) hierdie bykomende diensbepalings van Google Drive (“Google Drive se bykomende bepalings”) aanvaar.

Lees asseblief beide hierdie dokumente sorgvuldig. Hierdie dokumente is saam bekend as die “Bepalings”. Hulle bepaal wat jy van ons kan verwag wanneer jy ons dienste gebruik, en wat ons van jou verwag.

Alhoewel dit nie deel van hierdie Bepalings is nie, moedig ons jou aan om ons privaatheidsbeleid te lees om beter te verstaan hoe jy jou inligting kan opdateer, bestuur, uitvoer en uitvee.

1. Jou inhoud

Google Drive laat jou toe om inhoud op te laai, in te dien, te berg, te stuur en te ontvang. Jou inhoud bly jou eiendom, soos beskryf in Google se diensbepalings. Ons eis nie eienaarskap in enige van jou inhoud nie, insluitend nie in enige teks, data, inligting en lêers wat jy oplaai, deel, of berg in jou Drive-rekening nie. Google se diensbepalings gee aan Google 'n lisensie vir die beperkte doel om Google Drive se dienste te verskaf en te verbeter — as jy dus besluit om 'n dokument met iemand te deel, of as jy dit op 'n ander toestel wil oopmaak, kan ons daardie funksionaliteit verskaf.

Google Drive laat jou ook toe om saam te werk aan die inhoud van ander Google Drive-gebruikers. Die “eienaar” van die inhoud is die een wat die inhoud en gebruik daarvan beheer.

Deelinstellings in Google Drive laat jou toe om te beheer wat ander met jou inhoud kan doen in Google Drive. Die privaatheidinstellings van jou lêers hang af van die vouer of Drive waarin hulle is. Lêers in jou individuele Drive is privaat totdat jy besluit om hulle te deel. Jy kan jou inhoud deel en beheer van jou inhoud oordra aan ander gebruikers. Lêers wat jy skep of wat jy in vouers of Drives plaas wat gedeel word deur ander mense, sal die deelinstellings erf en kan eienaarskapinstellings erf van die vouer of Drive waarin hulle is. Ons sal nie jou lêers en data met ander mense deel nie, behalwe soos beskryf in ons privaatheidsbeleid.

Ons sal nie jou inhoud vir bemarking- of promosieveldtogte gebruik nie.

2. Programbeleide

Ons kan inhoud kontroleer om te bepaal of dit onwettig is of ons programbeleide skend, en ons kan inhoud verwyder of weier om dit te vertoon as ons redelikerwys glo dat dit ons beleide of die wet oortree. Maar dit beteken nie dat ons inhoud noodwendig kontroleer nie, so moet asseblief nie aanneem dat ons dit doen nie.